Briljante dans hou jou vasgenael

SÓ ‘n dansvertoning het plaaslike dansliefhebbers nog nie in Bloemfontein gesien nie.

Die standaard is hoog, die aanbieding is professioneel, maar bowenal is dit ‘n vars vermenging van danssoorte met briljante choreografie wat jou van die eerste passies vasgenael hou.

Dit bestaan uit twee dele. In die eerste deel, Cipher, was die trio Julia de Rosenwerth, Odille de Villiers en Nicola van Straaten ritmies en tegnies die toonbeeld van afgerondheid. Wanneer hulle dieselfde bewegings uitvoer, is dit of hulle aanmekaar vasgebind is, soms sonder musiek.

Cipher beeld die spanning tussen orde en wanorde, vorm en emosie, logika en absurditeit uit.

‘n Tikkende geluid dien as musiek in die openingsstuk om die orde te vergestalt. ‘n Heerlike heupswaai Rum and Coca Cola van die Andrews-susters weerspieël gevoel waarop die dansers na soepeler bewegings oorskakel.

Masks, ‘n ritmiese fluisterstem, bring hulle terug na regiditeit en in die vierde deel, When the northern lights, wat soos nywerheidsgeraas klink, voer die trio weer die aanvanklike drafpassies uit afgewissel met bewegings plat op die vloer en interessante patrone met hul arms en bene.

Die choreograwe Kristina Johnstone en Cilna Katzke se verbeeldings moes oortyd gewerk het. Dit is moeilik om te glo ‘n vertoning wat so gestroop en selfs elementêr voorkom, het so ‘n magnetise aantrekkingskrag.

Thalia Laric en Steven van Wyk verdien dieselfde mate van lof vir Mode , ‘n dansvertoning oor dans.

Drie danspare beset die verhoog saam met die operasangeres Robin Botha wat in ‘n effekleurige rooi balrok met ‘n breë wye romp onmiskenbaar opmerklik is teenoor die dansers met geruite rompe.

Dit is egter Botha se stem wat die sterkste impak maak. Sy sing deels onbegeleid en ryg die hoë note (vermoedelik ‘n top-C, dalk selfs hoër) met gemak en suiwerheid uit. Wat ‘n kragtoer.

Om haar beweeg die dansers, nou in ‘n walsmaat, dan hip-hop, daar is oomblikke van balletpassies, ‘n aërobiese roetine, en die wonderlikste, denkbeeldige volksdanse. Netjiese patrone en uitvoering van dié interessante danse laat jou oë nie ‘n oomblik afwyk nie.

Die dansers is die oud-Bloemfonteiner Henk Opperman, De Rosenwerth, De Villiers, Kopano Maroga, Natasha Rhoda en Sherwin Rhode. Elkeen verdien ‘n klop op die skouer vir vernuftige, energieke en afgeronde dans.

Dié vertoning sal hierdie balletomaan met nuwe oë na eietydse dans laat kyk, mits dit met dieselfde verbeelding en professionaliteit uitgevoer word.

As jy van dans hou, gaan kyk. Hulle is nog vandag te sien. Bravo aan ‘n uitmuntende span.

– Elretha Britz

No tags